Archives for September 24, 2014

As ek moes

Geen woorde is ooit genoeg
Om die diepste van diep aan jou te beskryf
Maar as ek ‘n gedig deur die woordeboek moes ploeg
Sou ek die volgende struktuur skryf:

Die titel sal wees ‘Ons’
En met ‘n hoofletter begin
Want dit verwys na geen ander, behalwe ons s’n

Twee versreels in elke strofe
‘n Verteenwoordigend van ek en jy
Nooit sonder mekaar, nooit gebroke
Nooit net ek, nooit net jy

Paarrym, kruisrym, selfs omarmde rym
‘n Span
Pas saam, vleg saam, is goed saam, wen saam
Nooit so gebroke soos gebroke rym

Woorde soos ”vriendskap”, ”liefde”, ”sielsgenoot”
En ”verewig” sal lewe aan die gedig gee
Met metafore wat aanpas by die blou lug en ‘n stil see

Groen en geel blare
Met ‘n hemelse verskeidenheid kleure
Van blomme op die aarde
Met ‘n hemelse verskeidenheid geure

‘n Enkele afsluiting met ”Ons”
Want jy’s my begin en my einde
Wat ook al in die middel geskied
Ek bly ewig joune, en jy bly ewig myne